Upcoming Tours
  • Cape Town Office: +27 21 863 6400
  • Namibia Office: +27 21 863 6400
  • Worcester Office: +27 23 347 7427
Call Us: +27 21 863 6400

Faces of the Namib

Faces of the Namib

Solitaire.

Hoe vertaal mens dié pleknaam? Alleen? Afgesonder? Dis gepas die begin van ‘n Life the Journey-reis wat nou al kultusstatus in die kleine gekry het: Faces of the Namib.

Dis daar in Solitaire waar julle laatmiddag stilhou vir brandstof vir ses dae, ‘n paar laaste bottels water – en wyle Moose McGregor se beroemde appeltert. Daar’s afwagting in die lug as die toergroep mekaar oor ‘n kampvuur ontmoet en die gidse diplomaties uitvis wie’s ervare duinryers en wie’s, wel, eerder ervare met Sandton se sypaadjies.

Dag 2 se ontmoeting met die woestyn is 35km noord van Solitaire, met ‘n draai na links by ‘n bord wat sê Namib Nauklüftpark. En dis dit. Dis hoe terloops die avontuur begin. Skielik is jy op paaie waar min ander al gery het. Permitpaaie.  Jy volg die spore van geskiedenis – die vroeë setlaars met hul ossewaens, transportryers in die laat 1800’s en die Duitse Schütztruppe met hul kameelpatrollies tot 1918.

Oor die wye Namib-vlaktes kruip jy geleidelik nader aan die duine. Die eerste rooi duine maak hul opwagting, mak genoeg vir die onervare bestuurders om hul ry-tegniek te oefen. Die Kuiseb-ravyn is ‘n onvergeetlike gesig met die hoë rooi duine aan die een kant, anderkant ‘n pikswart rotswand, en die rivierbedding vol bome.

Namib se oerplante lyk soos ou tantes wat velties vang. Welwitschia Mirabilis. Twee breë blare deur eeue se wind tot flardes verfomfaai.  En dan, die eerste aand in die woestyn onder die sterre. Rondom jou, die stilte. Jy en jou reisgenote is alleen onder die uitspansel. En dan weet jy: hierdie oos-wes-reis deur die wêreld se oudste woestyn verander jou lewe.

Die volgende dag oppad na Conception-baai spoel jy uit op die sandsee. Teen dié tyd is die stadsbestuurders en hul 4x4’s reeds ‘ingebreek’ want die duine raak nou massief – sommige heelwat hoër as 150m.

Jy kamp dié aand in die diepwoestyn, met die maanlig op die breë ‘strate’ tussen die duine wat bleek voor jou uitstrek.

Jy druk jou hand diep in die duin, nog warmgebak in die son, diep in tot waar dit koud word.

Op die vierde dag verander die kleure van die landskap soos jy naderkom aan die Atlantiese Oseaan. Tussen Conceptionbaai en Meob-baai, in ’n antieke seebodem, is die diamant-myndorpies Grillenberger, Holsatia en Charlottenfelder. Die vroeë myners het die seebodem letterlik vir diamante onder die onherbergsaamste toestande “gehark”. Die dorpies vertel windverwaaide verhale met verweerde drankbottels wat verstrooi lê. In ‘n museum is daar ou Duitse boeke, huisraad, gereedskap. In Holsatia staan ’n stoof nog met ’n pot of twee op die plate. In ‘n begraafplaas waai die wind die bleek beendere oop en toe.

Al met die see langs ry jy onverhinderd op die strand verby die Eduard Bohlen-skeepswrak. Van die eens-indrukwekkende ou skip is daar min oor. ‘n Rooijakkalsgesin het kaart-en-transport oorgeneem van die geroeste kajuite.

Verby die Shawnee-skeepswrak en Sandwich-baai, ontmoet jy die langewand (die smal strook tussen die duine en die see) wat jy met laagwater moet ry, anders druk die oseaan jou vas teen die 100m hoë duine wat reg op die strand eindig.

Van Sandwichbaai af laat die Namib jou vol adrenalien, met reuse duine waarin jy rondspeel. Jy ry oor slip faces: op met die rugkant en dan neus-af oor die kruin, en dit voel vir jou jy’s loodreg daar af, en jy onthou klaarhelder al die youtube-videos van ouens wat die Goue Reël van Ry Reguit vergeet het, skuins begin gly en dan dan na benede tuimel.

En vir oulaas, ‘n paar speelgate waarin jy gillend die duin volspoed afjaag tot onder, Evel Knievel-agtig gat te skuur oor die bodem en dan weer voet-in-die-hoek bid tot bo.

Nêrens is daar ‘n plek soos die Namib nie. Hoe sê Jurgens Schoeman? As hy himself weer wil vind, gaan raak hy verlore daar.

Comments