Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

RSG Reisnuus - met Johan Rademan (31 Mei)

Elke week skryf Live the Journey die Reisnuus vir Reis Sonder Grense op Saterdae oggende. Lees die volle bulletin hier.

Nieu-Seeland toerisme floreer as gevolg van die Britse koninklike besoek verlede maand, met Wellington as die nuwe gunsteling bestemming vir Britte. Aanlyn hotel soektogte deur Britte het met 70 persent gestyg as gevolg van die besoek deur die Hertog en Hertogin van Cambridge en Prins George. Volgens die hotel webwerf trivago.co.nz, het die navrae vir beskikbaarheid van hotelle in Wellington met 169 persent gestyg tydens die besoek. Nieu-Seeland is ook aangewys as die Britte se nommer een “droom vakansie bestemming” in die Britse uitgawe van Trip Advisor se halfjaarlikse TripBarometer.


Die 9/11 Gedenk Museum in New York is voltooi en het verlede week sy deure vir die publiek geopen. Die museum is ter nagedagtenis aan die slagoffers wat tydens die aanval gesterf het, en bring ook hulde aan die ‘Ground Zero’ reddings-werkers. Die museum, wat R7,3 biljoen gekos het om te voltooi, is 70ft ondergrond geleë op die oorspronklike fondamente van die gevalle Twin Towers. Die 110,000 vierkante meter uitstalling sluit in 23,000 fotos, 500 ure se video en film materiaal en byna 2,000 audio vertellings van die dag se gebeure.


Die internet brei voortdurend uit met mense wat verwag om oral toegang tot die web te hê. Vier plekke waar jy nie sou verwag om Wi-Fi te vind nie sluit in: die wêreld se hoogste berg, Mount Everest in Nepal. Daar is Wi-Fi toegang op Everest Base Camp sowat 5 km bo seevlak. 'n ‘Hotspot’ in een van die koudste plekke op die planeet, die Noordpool, is inwerking vanaf 2009, net 80 km vanaf die werklike Noordpool. Een van die Moederstad se gewildste plekke, die Seepunt promenade spog ook met gratis Wi-Fi. En in 2008 het NASA die Internasionale Ruimtestasie toegerus met 'n lokale area netwerk.


Die gevreesde 15% BTW op toerisme dienste in Zimbabwe sal inwerking tree gedurende Januarie 2015. Dr Shingi Munyeza, uitvoerende hoof van African Sun, sê dit is goeie nuus dat 'n implementerings datum vasgestel is. Sodoende, kan die toerismebedryf beplan daarvoor, maar hulle gaan wel vir die Minister van Finansies vra om die sperdatum verder uit te stel sodat die toerisme-industrie meer tyd het om te herstel na die finansiële krisis. Die president van die Zimbabwe Toerismeraad, Francis Ngwenya, het vroeër vanjaar gesê 'n toename van 15% op die prys van toerisme dienste sou uiters ontwrigtend en nadelig wees vir die bedryf, en sal byna sekere groei tot stilstand bring.


Tourvest Holdings het Three Cities Management gekoop en verkry daarmee 23 hotelle en lodges regoor Suid-Afrika, asook aandele in die Alpine Health Resort in die Drakensberge en die Greenway Woods Resort in Witrivier, Mpumalanga. Dit maak dat African Hotels and Adventures - 'n afdeling van Tourvest - die tweede grootste toerisme hotel en lodge bestuur maatskappy in Suid-Afrika word, en onderstreep die groep se voorneme om een van die grootste spelers te wees in die toerisme akkommodasie sektor.

Hierdie reisnuus is saamgestel deur Live the Journey. Besoek gerus www.livethejourney.co.za of stuur ‘n e-pos na [email protected] om jou volgende lewensverrykende reis te bespreek.


Comments