Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

RSG Reisnuus - met Johan Rademan (3 Mei)

Elke week skryf Live the Journey die Reisnuus vir Reis Sonder Grense op Saterdae oggende. Lees die volle bulletin hier.


Nederland is aan die voorpunt van innovasie nadat hulle straatligte met gloei-in-die-donker padmerke vervang het op 'n 500 m strook snelweg in Oss. Die gloei-in-die-donker padmerke is geskep met die hulp van 'n liggewende poeier wat in die padverf ge-integreer is en lig absorbeer. Die padmerke gloei tans saans vir ongeveer 8-ure nadat dit deur daglig gelaai is. Die ontwerpers het 'n groter visie vir die tipe van padmerke. Byvoorbeeld padmerke wat veranderende weersomstandighede kan hanteer deur sneeu waarskuwings te gee wanneer die temperatuur 'n sekere vlak bereik het.


Buitelandse toeriste het op sosiale media en reis forums begin kla oor die handhawing van 'n 6-dollar heffing vir ‘n besoek aan Viëtnam se ou stad, Hoi An, 'n UNESCO Wêreld Erfenisgebied. Hoewel die kaartjiestelsel twee jaar gelede bekendgestel is, is dit eers onlangs geimplementeer. Die geld wat ingevorder word met kaartjie verkope word aangewend vir die personeel se salarisse en instandhouding van die infrastruktuur. Nog 'n gereelde klagte handel egter oor die ongeskikte personeel by die kaartjiekantore en die swak Engels waarmee toeriste bedien word.


'n Nuwe sport het in die Alpe na vore gekom en dit word sneeu-vlugbal genoem. Die sport is al vir jare aan die gang, maar die organiseerders van die sneeu vlugbal toer hoop dat dit ‘n Olimpiese sport sal word. Die Oostenrykse ski-oord, Sankt Anton, het die eindstryd van die toer vroeër hierdie maand aangebied met sowat 50 spanne van regoor die wêreld wat deelgeneem het. Die hoof van die Oostenrykse vlugbal assosiasie, Peter Kleinmann sê, sneeu-vlugbal is beslis 'n pluspunt vir lande waar daar ski-oorde is, asook 'n potensiële hupstoot vir toerisme.


Planne is goedgekeur vir die ontwikkelings van die Mayibuye Gemeenskap Wildreservaat, wat halfpad tussen Durban en Pietermaritzburg in KwaZulu Natal geleë is. Peter Kennedy en wyle Laurence Anthony het agt jaar gelede met die beplanning van die reservaat begin. Na verwagting sal dit gereed wees om binne vier jaar besoekers te verwelkom. Die 4600 hektaar van die reservaat is toegeken aan die Mayibuye gemeenskap as deel van 'n grondeis. Die gemeenskap het ingestem om die grond aan te wend tot bewaring inruil vir opvoedings geleenthede. Werk het reeds begin met die omheining van die grond. Die doel is om die reservaat tot ‘n Groot Vyf bestemming te ontwikkel. Akkommodasie fasiliteite in die reservaat sal drie boetiek lodges sowel as luukse huise insluit.


Skade wat deur viertrekvoertuie aan grond in die Krugerwildtuin aangerig word, kan tot 100 jaar neem om te herstel en is selfs onomkeerbaar. Dr. Gerhard Nortjé van die Universiteit van Pretoria se sentrum vir natuurlewebestuur het pas sy doktorsgraad hieroor voltooi nadat hy intensiewe toetse in die park gedoen het. Daar is talle parke wat aan die wildtuin grens met onbeperkte toegang tot die wildtuin omdat daar nie grensdrade tussen hulle en die wildtuin is nie. Die kommersialisering van gebiede aangrensend tot die wildtuin het in 2000 begin en in baie van dié gebiede ry voertuie van die pad af om vir eksklusiewe toeriste “so gou moontlik die Groot Vyf te wys”, het hy gesê. Sy navorsing toon ook dat 90% van die skade aangerig word die eerste keer wanneer ’n voertuig oor die gebied ry.


Onderhoud: Die wêreld se oudste woestyn, die Namib, loop vir byna 1600km langs die Atlantiese kus van Namibië en is een van die mooiste en afgeleë plekke op aarde, met groot duine en verlate strande. Selfs beter, byna niemand besoek hierdie woestyn nie. Die rede? Uri Adventures is een van slegs 'n paar wat permitte het om toegang te kry. ‘n Amerikaanse tydskrif, Outside, het vir hul 2014 Reis toekennings hierdie toere as die “Beste Woestyntoer” ter wêreld genoem. Ons gesels meer met Hein Truter van Uri Adventures oor hierdie toekenning: 076 061 7345.

Hierdie reisnuus is saamgestel deur Live the Journey. Besoek gerus www.livethejourney.co.za of stuur ‘n e-pos na [email protected] om jou volgende lewensverrykende reis te bespreek.


Comments