Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

RSG Reisnuus - met Johan Rademan (24 Mei)

Elke week skryf Live the Journey die Reisnuus vir Reis Sonder Grense op Saterdae oggende. Lees die volle bulletin hier.

Die Chinese polisie sal hierdie somer die Franse polisie bystaan met patroleer werk by Parys se gewildste toerisme-aantreklikhede. Dit is in 'n poging om die styging van aanvalle op Chinese toeriste te bekamp. Meer as een miljoen Chinese toeriste besoek Frankryk elke jaar en daar is besorgtheid oor die groot aantal straatrowe gemik op hulle. In Maart verlede jaar is 'n groep van 23 Chinese besoekers in 'n restaurant beroof kort nadat hulle by Parys se Charles De Gaulle lughawe geland het. Daar word verwag dat daar ‘n verhoging hierdie jaar in die aantal Chinese besoekers aan Frankryk sal wees as gevolg van vierings wat verband hou met die 50ste herdenking van die stigting van diplomatieke bande tussen Parys en Beijing.

Meer as helfte van Britse vroulike reisigers is deesdae geneig om alleen vakansie te hou in vergelyking met vyf jaar gelede. Dit is volgens 'n studie wat gedoen is onder meer as 1000 Britse vroue deur Booking.com - 'n maatskappy wat fokus op verblyf besprekings aanlyn. Hierdie reisigers verkies om alleen te reis, wat hulle meer vryheid gee en sodoende kan hulle hul eie program bepaal asook die pas waarteen gereis word. As gevolg hiervan het 64% gesê hulle het eintlik meer selfvertroue en voel meer energiek en verfris na 'n reis op hulle eie. Daar word verwag dat die tendens sal voortduur omdat meer as helfte van die dames wat aan die studie deelgeneem het aangetoon het dat hulle reeds reisplanne het vir die volgende 12 maande.

Suid-Afrikaners wat aansoek doen vir 'n Schengen visum by die Franse ambassade, mag vrygestel wees van die proses waarin aansoekers persoonlik biometriese data moet indien. Die aansoeker moet net aan die volgende vereistes voldoen: 'n afskrif kan verskaf van hul vorige visum, waarop die 'VIS' teken verskyn en die aansoeker se biometriese data moes die afgelope 5 jaar in die stelsel ingevoer gewees het. Reisigers wat aan hierdie vereistes voldoen het nie nodig om persoonlik te verskyn om hul visumaansoek in te dien nie. Intussen het die Schengenvisum fooie ook afgeneem.


‘n Nuwe lugredery, Fly Blue Crane, het aansoek gedoen vir 'n lugvaartlisensie, om geskeduleerde vlugte tussen Kaapstad en OR Tambo te bedryf. Die nuwe lugredery sal gelei word deur die voormalige SAA en SA Express uitvoerende hoof, Siza Mzimela . Die woordvoerder vir Blue Crane Aviation, Rich Mkhondo, het die aansoek bevestig.

Die Cape Whale Coast toerisme streek het 'n nuwe winter veldtog bekendgestel, naamlik: Waar is Wendy? Die veldtog is vernoem na 'n Noordkapper Walvis koei, wat Windsorbaai vanaf die 1930's al besoek. Die “Waar is Wendy” veldtog is ‘n aanlyn gedrewe veldtog, wat fokus op die ontdekking van die geheime van hierdie ongerepte kuslyn asook waarom dit ‘n moet vakansiebestemming is. Deelnemers wat Wendy se roete volg kan pryse wen wat geborg word deur die streek. Deelnemers moet eenvoudig die Cape Whale Coast se Facebook bladsy ‘Like’, die weeklikse leidrade volg , en klik op die “Waar 's Wendy” ikoon om in te skryf. Vir meer inligting besoek die facebook blad: ‘whale watching south africa’.

Comments