Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

RSG Reisnuus - met Johan Rademan (21 Junie)

Elke week skryf Live the Journey die Reisnuus vir Reis Sonder Grense op Saterdae oggende. Lees die volle bulletin hier.

Die Australiese lugredery, Qantas oorweeg dit om drie reddingsbote te verwyder van die Boeing 737's wat nie die roete tussen Australië en Nieu-Seeland vlieg nie.  Dit is in 'n poging om geld te spaar. Die beoogde implementering hiervan is onder Senator Nick Xenophon se aandag gebring deur vlieëniers en kajuitbemanning by Qantas, wat bekommerd is oor die planne. Die politikus eis nou dat Qantas die skema, wat ‘n geskatte 1 miljoen dollar per jaar in brandstof kan spaar, moet laat vaar. Dit is nie teen lugvaartreëls om die reddingsbote te verwyder uit 737’s wat nie meer as 400 seemyl reis langs die kus nie, maar die bote red lewens en bevat radio's en rantsoene vir passasiers indien daar 'n vliegtuig ongeluk is of die vliegtuig gedwing word om 'n noodlanding te maak.

Die Britse gasvryheidsbedryf gaan gebuk onder 'n groot toename in die aantal TripAdvisor afpersers wat gratis etes en verblyf eis.  Afpersers dreig om slegte resensies van hotelle te plaas op die gewilde webwerf indien nie aan hul eise voldoen word nie. "Mense wat restaurante en hotelle dreig met 'n slegte TripAdvisor resensie om gratis dienste te kry, is 'n probleem wat groei. Selfs net een of twee slegte resensies het groot gevolge vir 'n besigheid se reputasie," sê Martin Couchman, adjunk-uitvoerende hoof van die Britse Gasvryheid Assosiasie. TripAdvisor afpersing is nie eksklusief tot Brittanje nie, maar wêreldwyd. 'n Woordvoerder van TripAdvisor verduidelik dat afpersing gevalle hok geslaan kan word indien eienaars sulke dreigemente dadelik rapporteer voordat 'n resensie ingedien kan word. Die opsporing van die bedrog sal dan ondersoek word en waar bewyse van dreigende gedrag gevind word sal aksie geneem word om die resensies te keer om op die webwerf te verskyn.

Die president van Kenia, Uhuru Kenyatta, het verlede maand aangekondig dat hulle 'n reeks inisiatiewe gaan implementeer om die toerisme-sektor te stimuleer. Met betrekking tot die land se toerisme-sektor het Kenyatta gesê die land het verlede jaar 'n daling in internasionale aankomste gesien weens uitdagings met sekuriteit. Kenyatta het gesê die regering en belanghebbendes het ingestem met die nuwe maatreëls om toeriste getalle te groei na Kenia. Hierdie maatreëls sal onmiddelik inwerking tree: landingsfooie by Moi en Malindi lughawens is verminder met 40% en 10% onderskeidelik, fooie by Kenia se hoof nasionale parke sal verminder word van $90 tot $80, en vlugkaartjie besprekings deur reisagente is vrygestel onder die BTW Wet 2/13, om voorsiening te maak vir mededingende pryse.

Airlink het vlugte tussen Johannesburg en Skukuza en Kaapstad en Skukuza begin. Die terugkeer van die geskeduleerde roete na Skukuza gee toerisme belanghebbendes en toeriste toegang tot verskeie bestemmings in die Kruger Park, Sabi Sands Wildreservaat en ander SA nasionale parke. Airlink bied twee vlugte vanaf Johannesburg en Kaapstad per dag.

Nuwe immigrasie reëls vereis dat Suid-Afrikaanse gesinne wat ’n buitelandse vakansie beplan, nie net ’n paspoort en gewone geboortesertifikaat moet toon by immigrasie vir kinders onder 18 jaar nie, maar wel ‘n onverkorte weergawe waarop albei ouers se besonderhede ook verskyn. Dié nuwe regulasies geld van 1 Oktober vir enige kind onder 18 wat die land deur enige grenspos verlaat. Volgens binnelandse sake behoort die aansoek proses binne ses tot agt weke afgehandel te wees. 

Hierdie reisnuus is saamgestel deur Live the Journey. Besoek gerus www.livethejourney.co.za of stuur ‘n e-pos na [email protected] om jou volgende lewensverrykende reis te bespreek.


Comments