Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

RSG Reisnuus - met Johan Rademan (10 Mei)

Elke week skryf Live the Journey die Reisnuus vir Reis Sonder Grense op Saterdae oggende. Lees die volle bulletin hier.

Condè Nast Traveller het onlangs sy keuse vir die beste uitsig platforms in die wêreld aangewys. Sedert die begin van die 21ste eeu het uitkykpunte belangrike toeriste besoekpunte geword. Sulke fasiliteite is besig om vinnig opgerig te word in alle dele van die wêreld. Die top 6 besigtigings platforms sluit in: die Grand Canyon Skywalk, House on the Rock in Wisconsin, Five Fingers Krippenstein in Oostenryk, Langkawi Sky Bridge in Maleisië, Skywalk in Auckland en die Stubai Glacier-platform in Oostenryk. Meeste van die uitkykpunte hang honderde meters hoog in die lug oor kranse met uitsigte oor pragtige berg panoramas.

Antarktika is besig om 'n gewilde nuwe vakansiebestemming te word. Toerisme is een van die min ekonomiese aktiwiteite wat toegelaat word deur die Verdrag van Antarktika en die Madrid Protokol, wat mineraal ontginning op die wit vasteland verbied. Voornemende toeriste moet ten minste 'n jaar vooruit bespreek of op 'n waglys geplaas word vir toere na die gebied. 'n Tipiese toer kos ongeveer US$3,000 per persoon - vir 'n vinnige vyf-uur besoek aan die gevriesde vasteland met ‘n vliegtuig. Nicolas Paulsen, adjunk-kommersiële direkteur van die Chileense lugredery Dap sê: “Antarktika is belangrik, aangesien dit ‘n invloed het op die klimaat en seestrome. Toerisme speel ‘n belangrike rol, want hoe meer mense dit weet, hoe meer sal hulle dit wil beskerm”. Antarktika trek meer as 30,000 toeriste per jaar, vanaf November tot Maart, wanneer landing op die gevriesde see nie ‘n probleem is nie.

Volgens 'n onlangse studie deur die Universiteit van Manchester, is die moontlike rede hoekom kos en drinkgoed op vlugte nooit so lekker smaak nie, die konstante agtergrond geraas, wat ons vermoë om te proe met 30% verminder. CNN berig daar is egter een drankie wat smaaklik bly op vlugte - tamatiesap of die ‘Bloody Mary’ skemerkelkie. Volgens 'n nuwe studie deur navorsers Charles Spence, Charles Michel en Barry Smith is 'n belangrike kenmerk van tamaties dat hulle ryk is in 'Umami’. Umami staan bekend as die vyfde smaak wat ons kan proe, na sout, bitter, soet en suur. Die studie se bewyse dui daarop dat umami eintlik 'n paar van die ander basiese smaake kan verhoog, wat verduidelik waarom tamatie-gebaseerde drankies gewild is op vlugte.

Gauteng lughawens word streng gemonitor deur die departement van gesondheid om te verhoed dat aansteeklike siektes die land binne gebring word. LUR, Hope Papo, het gesê dat klinieke by die OR Tambo Internasionale en Lanseria lughawes ingestel is daarop om virale siektes soos hemorragiese koors en voëlgriep vinnig op te spoor. Infrarooi hitte skandeerders is op die lughawe geïnstalleer om reisigers met verhoogde liggaamstemperature te identifiseer. Hoër liggaams temperatuur is ’n aanduiding van ‘n aansteeklike toestand en sulke passasiers word dan verder ondersoek deur die kliniek personeel. Twee dokters, 14 professionele verpleegsters en drie administratiewe personeel is in diens geneem om internasionale aankomste te monitor.

“Kom sit” is die boodskap agter die derde jaarlikse buitelug-kunsuitstalling wat vir die volgende jaar in die Eikestad te sien sal wees. Die Stellenbosch Outdoor Sculpture Trust (SOST) het die openbare uitstalling verlede maand geopen. Die projek vir 2014 bestaan uit betonbankies wat op strategiese plekke regoor die dorp geplaas is en deur bekende en opkomende kunstenaars in funksionele kunswerke omskep is. Van die bekendes wat vanjaar by die projek betrokke was, is Wilma Cruise, Strijdom van der Merwe, Jaco Sieberhagen en Marieke Prinsloo-Rowe. Daar is altesaam 24 bankies regoor die dorp wat toeriste en besoekers aan die stad kan geniet.

Hierdie reisnuus is saamgestel deur Live the Journey. Besoek gerus www.livethejourney.co.za of stuur ‘n e-pos na [email protected] om jou volgende lewensverrykende reis te bespreek.

Comments