Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

RSG Reisnuus - met Johan Rademan (26 April)

Elke week skryf Live the Journey die Reisnuus vir Reis Sonder Grense op Saterdae oggende. Lees die volle bulletin hier.

Reisnuus - 26 April

‘n Kongreslid in Peru, Aldo Bardález, het 'n wetsontwerp ingedien by die Parlement wat die boete vir misdade teen kulturele erfenis verhoog van 8 na 15 jaar tronkstraf. Misdade teen kulturele erfenis sluit in die vernietiging van of beskadiging van belangrike kulturele artefakte, monumente of die diefstal van argeologiese ontdekkings. Bardález het uitgelig dat hierdie misdade toegeneem het die afgelope jaar, met 'n totaal van 5226 voorvalle in Peru alleenlik in vergelyking met 2013 voorvalle in die res van die wêreld. Die Ministerie van Kultuur het openlik hul steun uitgespreek vir die wetsontwerp.


Sir Richard Branson van Virgin Limited Edition, het aangekondig dat hulle in die proses is om Mont Rochelle Hotel & Vineyard in Franschhoek te koop. Albert Gatare, 'n lid van die Miko Rwayitare familie, wat die eiendom in 2001 gekoop het, het die transaksie bevestig en gesê: Met Branson en Virgin Limited Edition se ambisieuse planne vir die toekoms van Mont Rochelle, is die familie seker dat hul visie vir Mont Rochelle, om 'n klein stukkie hemel op aarde te wees, verwesenlik sal word. Nadat die koop gefinaliseer is, sal die hotel toe maak vir opknapping en in Augustus heropen.


Die hoofhek aan die rand van die Ngorongoro-krater in Tanzanië gaan geteer word, om die beweging van voertuie te verlig gedurende die reënseisoen. Die projek is wyd verwelkom deur safari-operateurs omdat die 6 kilometer pad tot by die rand van die krater, gevaarlik is tydens swaar reën. Die Ngorongoro Bewaringsgebied Owerhede het 2.8 Biljoen Tanzanië sjielings vir die plavei van die pad gegee. Hierdie is ook die hoofroete vir safari verkeer vanaf Arusha na die Serengeti Nasionale Park, asook ‘n deurgangsroete vir verkeer deur die park wat na plekke soos Musoma langs die Victoriameer gaan. Die werk sal hopelik teen 1 Junie voltooi wees. Intussen sal die konstruksie van die beplande hoofweg tussen Arusha in Tanzanië en Voi in Kenia nou ook uiteindelik in Junie begin, en sal 3 jaar neem.


SANParke is gekant teen die bou van ‘n hidro-elektriese skema by die waterval van die Augrabies Nasionale Park in die Noord-Kaap. Gabrielle Venter van SANParke, het gesê die organisasie se bekommernis oor die projek sluit in die negatiewe impak op die ervaring van besoekers aan die valle. SANParke is bekommerd dat die afkeer van die water voor die valle en die terug pomp daarvan onder die waterval die ekosisteem sal bedreig. Venter sê verder dat die keerwal en kraglyne 'n visuele impak op die park sal hê, asook die verplasing van 'n groot gedeelte van die rivier se vloei na die valle. Hidro SA Direkteur, Neil Theron, het gesê die voorgestelde skema is nog onderhewig aan goedkeuring, en die konstruksie van die projek sal na verwagting binne twee jaar begin. Omgewingsimpakstudies moet ook nog voltooi word.


Die Tsitsikamma afdeling van die Tuinroete Nasionale Park het 'n R17 miljoen hupstoot ontvang van die Uitgebreide Openbare Infrastruktuur Program om bestaande infrastruktuur op te gradeer. Die 17 chalets oor die mariene gebied sal opgegradeer word, sowel as die ontvangs area in Stormsrivier. Die Otter Kamp se paaie sal geplavei word, en die Stormsrivier ingangshek sal vervang word. Lesley-Ann Meyer, Tsitsikamma Area Bestuurder, sê besoekers sal nie tydens konstruksie verontrief word nie.


Die Kiwi Fees vind volgende naweek vanaf 3 - 4 Mei in Haenertsburg plaas. Die fees is gesentreer rondom die kiwi vrug , maar baie interessante aktiwiteite word aangebied. Daar sal professionele sjefs wees wat teen mekaar kompeteer in ‘n kook kompetisie, wyn proeë, lekker kos en musiek. Mense word uitgenooi om hierdie heerlike fees in ‘n pragtige idilliese dorp in die berge te kom geniet. Vir meer inligting besoek: www.limpopobookings.co.za/kiwi-festival


Onderhoud met RIEBEEK-VALLEI SE OLYFFEES: Olyfbome, olywe, olyfolies en ander olyfprodukte is ’n integrale deel van die Swartlandse dorpies Riebeek Kasteel en Riebeek-Wes. Oor die naweek van 3 tot 5 Mei is dit weer tyd om alles wat olyf is te vier wanneer hierdie sjarmante dorpies aan die voet van die Kasteelberg die jaarlikse Riebeek-vallei Olyffees aanbied. Ons gesels meer met Ann Ferreira oor die fees. 


Hierdie reisnuus is saamgestel deur Live the Journey. Besoek gerus www.livethejourney.co.za of stuur ‘n e-pos na [email protected] om jou volgende lewensverrykende reis te bespreek.

Comments