Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

Onaardse klanke laat leeu toe vlug van Purros

 Onaardse klanke laat leeu toe vlug van Purros

Live the Journey ondersteun Flip Stander se Woestyn Leeu Projek, waardeur hy bekend is vir sy navorsing oor en bewaring van die Leeus. Lees hieronder 'n berig wat Dolf Els geskryf het oor 'n raar ontmoeting van die woestynleeu Terrace.


Onaardse klanke laat leeu toe vlug van Purros

Die woestynleeu Terrace, wat agt maande gelede deur die Kunenerivier met sy krokodille na Angola geswem het, is weer in die nuus. Hy was besig om donkies te vang toe Dolf Els hom onverwags in Namibië raakgeloop het.

Die woestynleeu Terrace naby Purros in die noordweste van Namibië waar hy van die Himbas se donkies gevang het. Die plaaslike bevolking het intussen die leeunavorser Flip Stander probeer help om sy lewe te red. Foto: DOLF ELS

‘Daar’s ’n leeumannetjie onder by die rivier. Hy’t een van die hoofman se donkies gevang.” Dux Tjipombo, ’n opsigter by die Purros-gemeenskapskamp in Kaokoland, wys in die rigting van die Hoarusib­rivier, enkele kilometer van die kamp.

Dit was ’n raps meer as twee weke gelede en ons was op pad terug deur Kaokoland nadat ons teen die Namibiese Skedelkus tot by die Kunenemond gery het. Dáár waar Terrace vermoedelik oorgeswem het toe hy Angola toe is.

Dit is net voor ses en al amper skemer toe Dux vertel hy het kort tevore gesien hoe die leeu ’n donkie van die plaaslike Himba-hoofman, Daniël Karutjaiva, na bosse langs die Hoarusib sleep.

Dit is dieselfde leeu wat die vorige oggend teen dagbreek deur die kamp geloop het. Net hier waar ons nou staan, beduie Dux.

Ek wou nog altyd graag die Kunenegebied se woestynleeus sien. Op ’n vorige reis het ons hulle saam met Stander gaan soek, maar nie gekry nie. Hy is bekend vir sy navorsing oor en bewaring van dié leeus.

Dit begin skemer raak en ons ry na die plek waar Dux die leeu gesien het. Stander is reeds daar, sy voertuig op ’n koppie bo die rivierloop geparkeer. Hy is baie gespanne en loer kort-kort deur sy verkyker na die groot maanhaar wat voor ’n ruie bos onder teen die rivier lê.

“Dis Terrace,” sê hy. “Ek moet hom hier wegkry voordat hy geskiet word.”

Ondanks die ruwe terrein en riviere wat ná goeie reën loop, is Stander inderhaas soontoe.

Ons het hoofman Karutjaiva op pad teëgekom. Die navorser het ’n goeie verstandhouding met die plaaslike hoofmanne opgebou: Hulle moet hom laat weet as ’n leeu probleme veroorsaak en die dier nie net doodskiet nie.

Ek verkyk my aan Terrace, wat steeds op dieselfde plek lê. Hy piets onrustig met sy stert en hou ons bewegings stip dop. “Bly in jul voertuig,” maan Stander.

Hy gee Terrace ’n dag “grasie” om self uit die gebied pad te gee.

“As hy môre-aand nog hier is, gaan ek hom verdoof en wegneem. En hoop hy kom nie terug nie.”

Dit raak nou donker. Onder in die leegte verloor Terrace belangstelling in sy toeskouers en dop op sy sy om. Sy maag is vol en hy is reg vir ’n rustige slaap, onbewus van die konsternasie wat hy veroorsaak het.

Ek sou baie graag nog ’n paar dae wou aanbly om op Terrace se spoor te bly, maar ons moes die volgende dag ry. Tuis volg ek die sage verder op Stander se uitstekende webtuiste (www.­desertlion.­info).

Terrace het met sy rondlopery ’n ikoon geword vir wildbewaring en toerisme in Namibië, sê hy.

Maar nou is Terrace se lewe weer in gevaar nadat hy ’n derde keer na Purros teruggekeer het.

Stander het hom die nag nadat ons weg is, verdoof. Ná ’n agt uur lange rit oor ruwe terrein is Terrace vroegoggend by die mond van die Hoarusib langs ’n digte bos afgelaai.

Die aand was hy al weer ’n kilometer of wat die binneland in.

’n Paar dae later skryf Stander: “Helaas, die Terrace-mannetjie is terug in die probleemgebied noord van Purros. Dis ’n baie slegte situasie!”

Met die goeie reën is daar nou minder wild in Terrace se jaggebied; vandaar sy belangstelling in die donkies.

In “ ’n desperate poging” om hom te verwilder, skiet hulle vuurwerk en fakkels in sy rigting. Maar Terrace laat hom nie so maklik verwilder nie.

Dit is eers toe hulle Deep Purple en Led Zeppelin se heavy metal speel met die klank oopgedraai teen 4 500 W dat Terrace besluit hy het nou genoeg en wil padgee!

Met die skryf hiervan was hy sowat 27 km noord van Purros naby die Khumibrivier; dalk weer op pad na Angola. Maar ook daar sal sy lewe in gevaar wees.

Terrace gaan kuier in Angola

Die Namibiese woestynleeu Terrace het verlede jaar noordwaarts geswerf en op 2 Augustus deur die Kunenerivier geswem vir ’n besoek aan Angola.

Die groot maanhaar het 15 dae lank in Angola vertoef voordat hy terug deur die rivier geswem het.

Die leeunavorser dr. Flip Stander, wat die leeu heelpad kon volg danksy sy nekband met ’n satellietsender, was verslae oor die geskiedkundige staptog.

“Alle aanduidings is dat daar 23 jaar laas ’n leeu by die Kunenemond geloop het. Spore wat André Schoeman in 1990 hier gevind het, is die laaste waarvan ons weet,” het Stander hierna aan Buite gesê.

Op sy besoek van 15 dae aan die buurland het Terrace altesame 328,5 km afgelê. Sy gemiddelde staptog was 21,9 km per dag.

Volgens Terrace se bewegings vermoed die leeunavorser hy kon twee keer prooi gevind het.

Terrace het tot 65 km noord van die Kunene in Angola gestap. Dit was in ’n verlate woestyn­gebied, en hy het vermoedelik glad nie met plaaslike inwoners of hul vee in aanraking gekom nie.

Hierna het hy weer in die nagtelike ure die Kunene probeer oorsteek.

Met sy eerste probeerslag het hy tot op ’n eiland geswem.

Die sesjarige maanhaar het toe terug na Angola geswem en met ’n tweede probeerslag veilig Namibiese bodem bereik.

 Dolf Els is ’n vryskutskrywer van Kampsbaai.

Die berig kom uit die Burger: Buite, 22 April 2014.

Comments