Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

Dave Pepler se tweede brief uit Madagaskar - op RSG

Dave Pepler se tweede brief uit Madagaskar - op RSG

DINK GROEN op RSG

Liewe Amore en luisteraars,
Sinkronisiteit boei my alhoemeer soos ek ouer word, want mens kan nie alle gebeure aan toeval toeskryf nie.. Verlede week, op pad na Madagaskar, het ek geskryf oor ons, en daarmee bedoel ek SuidAfrika, se morele verpligting om hulp te verleen aan hierdie sonderlinge eiland. ‘n Week (saam met Live the Journey as jy mag) op die eiland het dit bevestig, naamlik dat hulle reuse probleme het om hul verruklike natuurlewe volhoubaar te bestuur. Maar gisteraand in Antananarivo, is die sirkel voltooi toe Suid Afrika se Ambassadeur ons met veel grasie ontvang en onthaal het. Uit gesprekke is dit duidelik dat ‘n nuwe era van politieke stabiliteit vir Madagaskar aangebreek het, dat hulle nou gretig is om kontak te maak met Afrika, en, bowenal, dat hulle na Suid Afrika kyk vir bystand op talle gebiede. Mag dit gou gebeur. Maar kom ons vergeet van die opsigtelike probleme en laat my toe om ‘n bietjie te vertel van hierdie wonderbaarlike eiland. Knap na ons geland het, het ons begin suid-ry, suid na die weskus se reënwoude. Die binneland van Madagaskar is in sy geheel omvorm na landbougrond en mens sien geen teken van die vroeëre glorie van die hooglande nie. Wat my wel verbaas het is dat hulle gereeld uitbrake het van sprinkane, en ons het onder wolke van hiedie vlieënde grassnyertjies gery. Ek was al vantevore in die noordelike reënwoude, maar mens vergeet gou van hoe oorweldigend geil hierdie bioom is. Uit die grasvlaktes ry jy skielik die klam ruigtes in, en tonnel deur ‘n vervlegde en klam towertuin. Die lig het die kwaliteit van diep in ‘n akwarium – doppelskadu’s en groene wat inmekaarloop. In hierdie skemer flits daar vlinders, hul vlerke soos opaal, en in sonkolletjies, akkedisse so groen soos aangeslaande koper, met blou kolle op hul ribbes. Ek knyp my oë toe, wag ‘n wyle en kyk weer – ja, hulle is waarlik groen en blou. Maar, soos altyd het ek my persoonlike kortlys, veral van diere wat ek nog nooit gesien het nie, en hoog aan hierdie lysie was die blaarstert-geitjie. Van al Darwin se eksperimente is hierdie geitjie seker die vreemdste. Kyk asseblief na die foto wat ek saamstuur, en kyk weer. Op ‘n haar na ‘n paar droeë boomblare, die lyfie afgeplat sodat dit nie ‘n skadu gooi nie, en daai stert! Knap nadat ek die geitjie gekry het, flits die Madagaskar Paradysvlieëvanger oor die paadjie – roesrooi maar met wit stertvere. Daar is dae in die lewe van ‘n natuurkundige waar die verrassings jou byna oorweldig. Die lewe is waarlik meer vreemd as fiksie. Ek het skaars herstel toe ons die Ringstert-lemurs raakloop. As julle my eendag moet toesluit, vir watter rede ookal, sluit my toe in ‘n hok vol lemurs. As jy ooit gedink het ape of bobbejare is snaaks en interessant, probeer ‘n slag lemurs. Nuuskierig, behendig, rats en hondmak, kan mens ure staar na die handjies en voetjies wat so raakvat, die kontant sterte en veral die goue ogies wat verklap dat hulle slim primate is. Waar sal ek ophou met die lys van wonders? Die naguil, versmelt tussen dooie blare, ‘n verkleurmannetjie so lank soos my voorarm, of dalk die orgidieë en vetplante in vorms wat lyk of iemand die gek met jou skeer. As jy ‘n mens is wat hou van die ongewone, selfs buitengewone, slaan jou spaarvarkie aan flenters en koop ‘n reis na Madagaskar. Meer as net fisies beweeg, is dit ‘n reis na verbeelding.

Kontak vir Live the Journey om saam te reis!

Reis groete,

Dave

Comments