Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

Dave Pepler se brief uit Reykjavik

Dave Pepler se brief uit Reykjavik

DINK GROEN
Dave Pepler se brief uit Reykjavik

En nou is Ysland kookwarm! Magtig, ons kom vir sneeu, gletsers en poolwinde. Maar stap jy deur die wonderlike stad, verander negatiewe emosies soos woede in suiwer bewondering. Ek hou vol dat Ysland een van die skoonste en gemanikuurde plekke op aarde is. Die strate is ontneem van alle rommel, daar is houers vir herwinning op elke straathoek, die argitektuur is beheersd, die motors in puik toestand en die mense, ai die mense. Jy word oorweldig deur vriendelikheid en hulpvaardigheid net waar jy kom. En, dis ook tewagte van ‘n volk waarvan 60% gegradueerd is, een uit elke 15 mense ‘n boek sal skryf, wat mediese rekords het wat oor vier eeue strek, en wat verbete veg teen inmenging van die Europese Unie. Dis ook die volk wat Björk, Sugur Ros en die Sugarcubes opgelewer het – Philip Mc Lachlan, eertydse koormeester van die beroemde Stellenbosch-koor het altyd gese: “Schlechte menschen singet nicht” – slegte mense sing nie! Die musiek- en boekwinkels is suiwer hemel, en die oomblik as ‘n nuwe Yslandse werk verskyn, verkoop dit binne minute uit, veral as die skrywer iemand soos Indirason is. Daarby lees almal die klassieke Yslandse sages, fabelagtige werke wat reeds meer as 1000 jaar staan. So akkuraat is hierdie vertellings, dat mens vandagnog jou weg kan vind aan die landskappe wat daarin beskryf is. Kom dit by energieverwekking, is Ysland die wêreld ver voor: hulle wek oorvloedige hidro-elektriese en hidro-termiese karg op, en daar is nou sprake dat hulle dit gaan uitvoer na Denemarke met ‘n ondersese kabel! Hulle is die wereld ook voor met die opwekking van waterstof as brandstof, en jy kan jou motor volmaak hiermee – van die busse in Reykjavik loop met waterstof, en WATER kom by die uitlaatpyp uit. Hierdie stad is ‘n blik in die toekoms. Die ganse Reykjavik kry hul verhittings-water vir beide was en stort asook vir ondervloerse verhitting van die oorskietwater van ‘n hidrotermiese kragstasie so 30 km buite die stad. ‘n Pypleiding bring dit al die pad, met ‘n verlies van minder as 1C, en dit word in reuse tenks op ‘n heuwel buite die stad gestoor. Maak jou warmwaterkraan oop, en met swaartekrag stroom dit in jou bad. Die riviere wat deur die stad loop is so onbesoedel dat dit tel as een van die voorste salmstrome in Ysland. Die riviere in Suid frika sal nie eers ‘n brandsiek baber oplewer nie! Die blywende indruk van Ysland is tweeledig: die absolute fokus op menseregte, in alle opsigte. Verdraagsaamheid vir die ryk diversiteit van menswees. En dan, hul obsessive oor die natuur. Enige ontwikkeling kan in sy spore gestop word vir estetiese oorwegings. “n Reuse hidro-elektriese opgaardam is verlede jaar gestop toe die volk ‘n delegasie na die parlement gestuur het omdat die ontwikkeling een van die gunsteling wandelpaaie in Ysland sou belemmer. Ek staan eerbiedig in Ysland voor mense wat omgee, vir hulself, hul medemens en hul omgewing. Slegs met ‘n gesamentlike en doelgerigte visie soos die, kan ons begin om ons bestaan op aarde te regverdig. Lank mag hulle lewe.

Comments