Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

Dave Pepler reis saam met Live the Journey in Ethiopie

Dave Pepler reis saam met Live the Journey in Ethiopie

Dave Pepler was onlangs saam met Live the Journey in Ethiopië.

Liewe Amore, liewe luisteraars,
Lalibela, daardie geheimsinnige stad van klipkerke in Ethiopië, is in rep en roer.  Strate word skoongevee, venters verkoop takkies heuning-geel akasia-blommetjies, daar is dreunsang en tromspel uit elke kerk, derduisende mense is op straat, toegewikkel in suiwer wit handgeweefde klede, en soos miere wat afpeil op ‘n oop konfytfles, stap hulle af op ‘n natuurlike amfiteater in die voue van die dorp.  Ons ry nader.  Omring deur die wit massa, glansend in die hoogland-son, is die kern van die geleentheid.  Priesters in borriegeel en goudgewaad, hul silwer krone skitterend, gehul in blou wolke wierook, wag op die koms van die Patriarg van die Koptiese kerk van Egipte.
So oud, selfs ouer as die Christendom self, is Ethiopië een van die wêreld se oudste deurlopende setels van geloof.  Op Sondag was ons in Axum, knap teen die grens van Eritrea.  Hierdie stad is deurspek van argeologiese skakels met die verlede – die fondamente van die paleis van die koniginin van Skeba staan nounog en in die stadsplein, rotsnaalde, sommige opgerig vóór die piramides van Egipte.  By ‘n klein kerkie, loer ‘n bewaker deur die tralies, sy gesig gesluier agter ‘n beesstert – hy is die oppasser van die heilige ark.  In die museum langsaan, relieke van fabelagtige en kosbare waarde – goudkruise, togas deurwerk met silwerdraad, swaarde en krone vol edelgesteentes – die British Museum sal hierdie versameling gelykstel aan die fabelagtige “Elgin Marbles”.
Ingedagte staan ek in verwondering, geseënd dat ek, met sulke toeval, kan deel wees van ‘n ritueel so oud soos die berge.  En skielik, soos ‘n bliksemslag, kom dosyne beelde bymakaar in my kop en iets wat my al die hele toer pla, word met aaklige helderheid werklik.  Op dag een, in Bahir Dar, vang my oog ‘n aggressiewe indringerplant, Sticky Willy, oftewel Galium aparine, wat teen ‘n kerkmuur opkruip.  Galium is ‘n eenjarige onkruid uit die Mediterreense streek wat onlangs in Suid Afrika opgemerk is.  Soos met alle suksesvolle indringers, is die plant toegerus met eienskappe wat dit ‘n voordeel bo die inheemse gee.  Dis eenjarig en maak dus elke jaar saad, die blare kleef soos lint aan alles wat dit raak, die sade het weerhakies, en die kruid groei veel vinniger as die inheemse plante.  Los mens dit, vorm dit onderdringbare matrasse van stingels en blare, en dit versmoor alles voor die voet.
Op Sondae en feesdae, maak die Ethiopiërs kransies van gras en blommetjies en en veral die vroue en kinders dra dit kerktoe.  Na die diens, word die kransie, sodra dit verlep, eenvoudig afgehaal en weggegooi.  En toe, soos ‘n geskenk uit die hemel, verskyn Sticky Willy!  Meteens hoef jy nie grassies te soek nie, want dis oral, jy hoef dit nie te vleg nie want dit kleef aan jou kopdoek of hare, en ‘n nuwe besigheid word gevestig.  Arm mense versamel rankies, en verkoop dit by die kerkpoorte – ALMAL dra oornag Sticky Willy op Sondae.  Verlede jaar toe ek hier was, was daar GEEN teken van Galium nie.  Binne slegs een jaar het ‘n dodelike indringer ‘n ganse land beset.
Ek staan stomgeslaan oor hoe ‘n arm land met sagmoedige mense, só onwetend en met geen kwade bedoelings, ‘n pes van Egiptiese proporsies op hul land kon loslaat.  En dit is juis hoe ons, meestal, met geen kwade bedoelings, besig is om ons aarde in eenvormigheid te omskep.  Dei geskiedenis is vol sulke voorbeelde: Suid Afrika se rooikrans, ingebring om waaisand te beheer, Cecil Rhodes se eekhorings en Europese Spreeus, die dennebome in die Kaapse berge, kakiebos – die lys het eenvoudig geen einde nie.
Maar hier gaan ek my stem dikmaak.  Môre, terug in Suid Afrika gaan ek ‘n ernstige brief skryf aan almal het wat ore het om te hoor – die president van Ethiopië, die minister van toerisme, die aartsbiskop.  Daar is geen tyd te verspil nie- stop die begruik van hierdie aaklige plant in sy spore, of Ethiopië gaan ‘n skrikwekkende prys betaal.  Hou duimvan dat iemand luister.
Groete uit Lalibela,
Dave

Luister na die opname hier

Comments