Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

Dave Pepler se brief uit Marrakesj

Dave Pepler se brief uit Marrakesj

DINK GROEN
Dave Pepler se brief uit Marrakesj

Laat my toe, asseblief , om eers ‘n bietjie te kla, want hierdie brief gaan oor kla, koelte en kos.

Ek voel soos Jeremia, want met elke reis raak ek dieper bewus van die tragiese toestand waarin ons land haar bevind. Ja, ek noem Suid Afrika “haar” omdat ek Afrika nog altyd as vroulik beskou het. Die moeder van die mensdom self, haar ruimheid; wanneer sy gee, gee sy groot. En om hierdie delikate vrou so verniel en misbruik te sien, oorrompel met vraatsug en onbeperkte gierigheid, gemeet aan ander denkende Afrika-lande, maak my seer en maak my kwaad.

Marokko verras mens die oomblik as jy hier aanland. Die hele land kook van aktiwiteit, dis skoon, die mense is uitermate vriendelik en behulpsaam, en dinge werk! Die ekonomie staan wydsbeen oor landbou, vissery en, vreemd genoeg, die motorbedryf. Naby Europa, met hardwerkende mense, blom die land. Luister goed: hoe meer ons mense staak en onmoontlike verhogings afdwing, hoe gouer gaan lande soos Marokko eenvoudig ons besigheid wegneem, en met katastrofiese gevolge. Die wêreld is nie blind nie – met vrot leierskap en korrupsie, en met tragiese kortsigtigheid, gaan ons stadig maar seker agteruitboer. Is dit so moeilik om te verstaan?

Genoeg gekla en na meer plesierige dinge, en nou ‘n kort lofsang oor koelte. Ek ken die argitektuur van die midde-ooste, maar is opnuut verras oor hoe slim hierdie woestynbewoners bou. Maak jou strate nou, laat hulle kronkel, bou styf teenmekaar en siedaar, jy het maksimum skaduwee. Verder bou jy om ‘n diep sentrale skag in die middle van jou konstruksie, plant lower om ‘n fontein, en jy lewe in jou eie klein paradys. Die skag is deurentyd in skadu en werk soos ‘n passiewe lugversorger. Warm lug styg en trek koeler lug deur jou vertrekke. En as jy insluimer, hoor jy water…….. Natuurlik hou mens van privaatheid, jou eie lappie aarde en ‘n afwesigheid van kermende kinders, maar as ons saam wil werk om iets positief aan die aarde se welstand te doen, sal die gemeenskap, volhoubare gemeenskappe ‘n al groter rol moet speel.

Nou Amore, die lekkerste vir laaste – die kos! Ons, dis nou die toergroep van Live the Journey, eet soos konings, maar daarby gesê, nou nie juis konings wat Dokter Tim se boek ter harte neem nie. So terloops, van die goeie dokter gepraat, wat op aarde is verkeerd met ‘n gesonde, gebalanseerde dieet?

Hoe lyk ontbyt? Sonryp lemoenskywe met suiker en kaneel bestrooi, slaai (ja slaai!) gemaak van knalrooi tamaties, komkommer, maaskaas en dan, olywe uit die hemel. Nog nooit het ek sulke geurvolle olywe geëet nie. Ek gaan nog uitvind hoe hulle dit voorberei, en die resep brutal steel. Hierdie tegniek moet saam met my terugkom. En die beroemde tagine’s? Waar is jy Amore? Couscous gelaai met aartappels wat na grond smaak, eiervrug in oordadige olyfolie, hoederstukke, en bo-oor harissa, ‘n sousie wat jou tong bleik.

Mens voel nooit vol na so ‘n ete nie, en ek weet, in my hart, dat dit gesond is. Byna vergeet ek van die vis! Die Atlantiese oseaan is hier nog funksioneel, en die visbedryf kerngesond. Ons eerste noenmaal was juis ‘n ovaalbord, gelaai met sekerlik 4 of 5 soorte klein vissies. Huidjie en muidjie gebak in olie, met ‘n dun geurige beslag. Meeste mense eet dit soomer so grate en al. Die toergroep was doodstil soos daar geknaag en gesuig is aan die heel vissies.

My boodskap – leef eerlik en na aan die aarde, en dan vind jy dat jy elke dag in die paradys is - mens hoef nie daarvoor te wag nie, want dit is reeds op aarde.

Comments