Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

Karoo Kruie Karakters en Kos

  • Sutherland - Suid-Afrika se sterre-kyk hoofstad
  • Kuier by Kruie Kraai Koning se Antoinette Pienaar en Oom Johannes
  • Prins Albert, die juweel van die Karoo
  • Rooiberg Lodge
  • Ons ry amper heelpad grondpad!

Overview

By Live the Journey dink ons ALTYD aan die 3 M’e: “Moments, Mates, Memories”! Met al ons toere probeer ons “MOMENTS” skep saam met ander toer-“MATES”, om sodoende “MEMORIES” te bou, wat almal hopelik lank sal bybly . Ons poog om unieke ervarings, gebeurtenisse en karakters uit te snuffel en verpak dit dan in unieke toere. Hierdie toere kan jy nie op jou eie doen nie. Dit is presies die rede hoekom jy saam met Live the Journey moet toer en op hierdie volgepakte 7-dag Karoo-ervaring vanaf 11 tot 17 September 2021 moet gaan! Moenie hierdie een misloop nie!

Sutherland, hier kom ons!! Ja, jy lees reg – ons toer begin in die sterrekyk hoofstad van die land.

Antoinette Pienaar en oom Johannes, maak julle reg, ons is op pad!! Ja, weereens lees jy reg. Na Sutherland gaan ons vir 2-dae by Kruie Kraai Koning se Antoinette Pienaar en Oom Johannes kuier. Legendariese karakters die 2, wat jou gaan vul met hope nuwe “moments and memories”.

Prins Albert ons ry jou nie mis nie!! As jy nog nie daar was nie, kom gerus saam en ervaar self hoekom ons die juweel van die Karoo besoek.

Rooiberg Lodge ons eindig by jou!! In die rustigheid van die Karoo sluit ons ʼn buitengewone ervaring af.

Daar is nog baie juweeltjies in die program ingebou, maar seker die lekkerste is dat die roete so ontwerp is dat ons omtrent heelpad net grondpad ry.

Itinerary

DAG 1:

09:00 Groeplede ontmoet mekaar in die Paarl. Vandaar ry ons via die Nuwekloof- en Mitchell’s passe na Ceres. Hier verlaat ons die gebaande weë en ry via die Karoopoort na Sutherland. Tydens hierdie rit steek ons die provinsiale grens vanaf die Wes-Kaap na die Noord-Kaap oor met die Oubergpas wat op ons wag.

Die Oubergpas is 'n gewilde grondpad pas en is ongetwyfeld die indrukwekkendste grondpad pas in die Noord-Kaap. Tydens die rit styg die hoogte 820 meter oor ʼn afstand van 10,4 km om 'n stywe gemiddelde gradiënt van 1:13 te lewer. Die steilste gradiënt is 1: 6 – wat steil is! Dit loop oor die rug van die Roggeveldberge en bereik 'n hoogtepunt van 1402 m op die boonste Karoo-plato. Die pas het 44 hoeke en draaie, wat 8 haarnaald draaie insluit en 4 hoeke skerper as 90 grade.

Vanaf die plato is dit ongeveer 40 km voor Sutherland bereik word.

Ons bespreek in by ons akkommodasie en geniet ʼn vroeë aandete.

19:30 Ons ontvang ʼn privaat sterrekyk toer van ʼn plaaslike inwoner. Tydens hierdie 90-minute toer kyk ons deur teleskope en leer meer van die wonders van die naghemel.

O/N Sutherland (aandete)

DAG 2:

Na ontbyt val ons in die pad na Merweville.

Nog ʼn skouspelagtige pas wag vandag op ons roete. Rammelkoppas, is tussen Sutherland en Merweville. Hierdie baie steil pas sal vir lank onthou word nadat jy dit gery het. Dit klim 263 meter in hoogte binne 2, 6 km en lewer 'n gemiddelde gradiënt van 1:10 met die steilste gedeeltes 1: 5. Alhoewel 'n 4x4 in droë toestande nie verpligtend is nie, kan dit 'n lewensredder wees in nat weer. Die pas bied skouspelagtige uitsigte met steil afdraandes en kranse van tot 300 meter hoog.

Ons stop by Christo Bothma. Die man het ʼn ongelooflike verplant-kwekery. Dit is nie oop vir die publiek nie. Ons groep kry spesiale vergunning vir die besoek. Ons gaan genoeg tyd hê om in te neem wat Christo hier doen. Sy passie is aansteeklik.

Die plan is om ʼn worsie te braai by Christo op die plaas voor ons verder in die pad val.

Ons mik vir Theefontein waar Antoinette Pienaar vir ons wag. In Antoinette se eie woorde: “Dis wonderlik dat julle vir my en Oom Johannes hier op Theefontein wil kom kuier. Die pad hierheen is nie met duwweltjies besaai nie, maar die tweespoor paadjie se middelmannetjie kan somtyds effe hoog wees. Kom met ʼn bakkie of SUV, en ry versigtig. Moenie laat kom nie, want julle moet nog genoeg tyd hê sodat Moeder Natuur haar towerspel oor almal kan spreek en ons ingestel kan word op Manberg en Vrouberg. Maak tyd om die labirint te stap en kry jou balans. Of sit op die groot stoep en kyk die vlaktes in en word stil”.

Aandete gaan een heerlike geselligheid wees met almal wat sal moet handjie bysit om die kos op die tafel te kry. Live the Journey voorsien al die bestanddele vir die etes op Theefontein, maar dit sal ʼn groep poging moet wees met die voorbereiding en gaarmaak. Antoinette verwys na die proses as ʼn “saam maak ete”.

O/N Theefontein (ontbyt, middagete, aandete)

DAG 3:

Antoinette: “Tyd loop stadig hier op Theefontein. Ek moet ook Oom Johannes se ouderdom in gedagte hou – hy is al in sy 90’s! Ons wil egter vroeg veld toe gaan om kruie te identifiseer. Na die kruie wys, braai ons ʼn worsie in die veld en keer dan terug waar mense dan bietjie kan rus. Ons stap egter nie ver nie, so moenie worry nie. In die middag doen ons ʼn inligtingsessie en werkswinkel oor die kruie wat ons gesien het. Elkeen moet asb. ʼn boekie saambring om notas te maak. Ons praat oor die algemeen oor kruie en hulle medisinale waarde. Elkeen, of die wat wil, kry kans om te praat oor hulle skete en vrae te vra!” Mense, dit gaan fantasties wees! Egte mense, egte ervaring – die Engelse woorde is “real, authentic experience”. Ons gaan nie die tyd saam met Antoinette en Oom Johannes sommer vergeet nie.

Vandag se ontbyt en aandete gaan albei die vorm van ʼn “saam maak” etes aan neem.

O/N Theefontein (ontbyt, ʼn worsie in die veld, aandete)

DAG 4:

Ons eet eers ontbyt en kuier vir oulaas saam met Antoinette-hulle. Ons vertrek en ry dan met agterpaaie op pad na Prins Albert. Rietbron is een van die plekkies wat ons besoek. Die dorp het die enigste kerk in die land met ʼn springbok op sy kerktoring.

Ons stop iewers en braai dan ʼn lekker worsie in die veld … niks kan mos lekkerder as dit smaak nie.

Laat middag bespreek ons in by ons akkommodasie waar almal kan ontspan en die mooi van die omgewing in neem.

Vanaand geniet ons aandete by die Showroom waarna die fliekvlooie kan uitsien na ʼn lekker rolprent. Die Showroom is waarskynlik die heel mooiste Art Deco teater in Suid-Afrika.

O/N Karoo View, Prins Albert (ontbyt, aandete)

DAG 5:

Die oornag eenhede is toegerus met koffie, besluit, pap en vrugte. Geniet ontbyt. Daarna ry ons tot op die kruin van die Swartbergpas. Hier draai ons weg en ry ʼn 4x4 roete met mooi uitsigte oor die Groot en Klein Karoo.
In die ou dae het daar ʼn bosbou paadjie geloop vanaf die kruin van die Swartbergpas tot in Meiringspoort. Tans is hierdie paadjie onder toesig van Kaap Natuurbewaring. Ons kry spesiale toestemming op n gedeelte te ry.

Verwag ʼn skilderagtige ervaring op hierdie geïsoleerde roete. Met hierdie roete van net minder as 28,4 km ry ons suidoos, min of meer reguit bo-op die Swartberg, met honderde kilometers uitsig in byna alle rigtings, van die Groot tot die Klein Karoo. Ons behoort selfs die Outeniqua-berge in die suide en die Nuweveld-berge in die noorde op die horison te kan sien op ʼn mooi dag.

Arriveer laat middag terug in Prins Albert

O/N Karoo View, Prins Albert (ontbyt, piekniek middagete, aandete)

DAG 6:

Ons verlaat Prins Albert na ontbyt en ry deur berglandskappe tot op Calitzdorp.

Calitzdorp is die port hoofstad van die land en daarom moet ons stop en eers proe. Ons stop by Boplaas aan die buitewyke van die dorp vir ʼn wynproe. Die plaas spog met ʼn lang lys van toekennings wat hulle oor jare al ontvang het.

Vanaf Calitzdorp ry ons met die Rooibergpas tot by ons oornag stop.

Die Rooibergpas is in 1928 gebou. Dit verbind Calitzdorp met die klein dorpie Van Wyksdorp. Daar is 'n totaal van 69 draaie en hoeke, wat 6 haarnaald draaie insluit en baie ander draaie met 'n draairadius van meer as 90 grade. Die pad bied 'n wonderlike uitsig van die valleie en rante wat in fynbos bedek is, en in die winter is die helder oranje blomme van honderde aalwyne te sien.

O/N Rooiberg Lodge (ontbyt en aandete)

DAG 7:

Na ontbyt vertrek ons op grond- en agterpaaie tot in die omgewing van die Hexriviervallei. Dan is dit tyd om te groet en elkeen vertrek op sy roete huiswaarts.

EINDE VAN DIENSTE

Dates

11 September 2021 - 17 September 2021

Rates

Toerprys per persoon wat deel:
Per volwassene: R 13 900.00

Included

Ingesluit:

  • Toerleier in eie voertuig
  • 1 x nag in Sutherland op DBB basis
  • 2 x nagte op Theefontein in oop plan koshuis-tipe styl akkommodasie
  • 2 x nagte in Prins Albert op DBB basis
  • 1 x nag by Rooiberg Lodge op DBB basis
  • Privaat aand sterrekyk toer
  • Toegang tot die vetplant kwekery by Merweville
  • Wynproe by Boplaas
  • Ontbyte en aandetes op Theefontein (groep help met voorbereiding van etes)
  • Fliek-vertoning by die Showroom in Prins Albert.
  • Park en konsessiefooie vir Swartberg 4x4 roete

Excluded

Uitgesluit:

  • Vervoer (4x4 of SUV met hoë grondvry hoogte)
  • Brandstof
  • Middagetes en snoeprye tensy ander vermeld
  • Drinkgoed
  • Reisversekering en voertuig versekering
  • Persoonlike uitgawes

Notas:

  • Daar kan slegs 14 persone op die toer geakkommodeer word.
  • Die toer begin in die Paarl en eindig by Rooiberg Lodge.